JOIN OUR MAILING LIST
Nuus


2016-09-28
Yahweh Elohiem se genade is genoeg


Ons is vandag vergader onder die Heilige Naam van ons Vader Yahweh Elohiem in Yahsua Messiah deur die Heilig Gees YahRuagh.  
Maar ek wil vra wie is hier omrede hy hier wil wees en wie is hier omrede hy vandag hier MOET wees. Ons gaan almal noem ons is hier omrede ons hier wil wees. Maar laat ons eerlik kyk na die standpunt.
Alles wat ons in die lewe doen word gedoen omrede ons dit moet doen. Ons moet ‘n toets en eksamen voldoende slaag om oor te beweeg na die volgende graad van opleiding. Ons moet die een of ander saak voltooi voordat ons kan voortgaan om die volgende taak te voltooi. Indien ons nie so sou handel nie sal ons veragter raak in die lewe. Ons sal stagneer.
Net so moet ek by die diens wees en in gesprek met die Vader. Ek moet in verhouding kom tot my skepper of ek veragter in die lewe en verloor my naam uit Sy Boek. Ek veragter en mag sterwe sonder dat Vader red. Ek gaan hel toe na die doderyk.
So in werklikheid is ons hier omrede ons hier moet wees.

Vader se antwoord aan Paulus was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. 2 KOR 12:9 (83)


En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van MESSIAH in my kan woon. (53)


Is YAHWEH se genade genoeg vir 'n mens om van te lewe?
Kan die genade alleen 'n mens in staat stel om YAHWEH lief te hê?
Nooit, sê die Satan.
Niemand op aarde kan ELOHIEM YAHWEH liefhê net om YAWEH Self nie.
Dit is die uitdaging waarmee Satan na ELOHIEM toekom oor Job.
’n Persoon wat YAHWEH se genade verstaan het, was koning Dawid en in Ps.103 stel hy AAN ONS DIE LESER met die inhoud en rykdom van YAHWEH ELOHIEM se genade bekend.   Hy onderskei sewe elemente van YAHWEH se genade in verse 8-18
(i) YAHWEH se vergifnis van sonde;
(ii) YAHWEH se billikheid met sondaars;
(iii) die omvang van sy liefde;
(iv) die volledigheid van vergifnis;
(v) die simpatie wat YAHWEH met sondaars het;
(vi) YAHWEH se vertroudheid met sondaars se swakhede; en
(vii) die duursaamheid van Sy Liefde.
GALASIERS 5:12 – 18,25,26 die doel van hierdie boek is juis om die persoon te slaan op persoonlike trots.  Dit neem die leser verby die gedagtes en hart tot op die murg van jou gees.
Ag, as die wat julle opstandig maak, hulleself tog maar ook wou vermink!
Want julle is tot vryheid geroep, broeders; gebruik net nie julle vryheid as ’n aanleiding vir die vlees nie, maar dien mekaar deur die liefde. Want die hele wet word vervul in een woord, naamlik: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Maar as julle mekaar byt en opeet, pas op dat julle nie die een deur die ander verteer word nie. Maar as julle deur die Gees gelei word, dan is julle nie onder die wet nie. As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel. Laat ons nie word soekers van ydele eer wat mekaar uittart en mekaar beny nie.
ONDER DIE WET IS OORDEEL VAN DIE WET – DIE DOOD.
Hoe Groot IS die hopeloosheid wat mense dikwels ervaar as hulle deur krisisse moet gaan.
Tydens die Tweede Wêreldoorlog was daar in ‘n konsentrasiekamp ‘n gevangene wat toegelaat is om sy kitaar by hom te hou. Sy gees was vry en sy vingers vaardig en wanneer hy musiek gemaak het, het die ander gevangenisse kom luister. Dit het aan hulle nuwe hoop gegee en gemaak dat hulle net so vreesloos soos hy gevoel het. Toe die kamp owerheid dit besef, het hulle die man verbied om te speel. Maar die volgende dag het hy maar weer sy musiek gemaak. Die wagte was so woedend dat hulle sy vingers afgekam het in 'n poging om hom stil te kry. Kort daarna was Hy egter terug, want met sy verminkte hande kon hy steeds speel en het hy sag gesing. Toe die wagte dit hoor, het hulle sy kitaar gegryp en stukkend teen die grond geslaan. Maar ook dit kon hom nie keer nie, want die volgende dag het hy sonder begeleiding uit volle bors gesing. Sy medegevangenes het hom gehoor en hul harte het lig geword. Solank die sang geduur het, was hulle gees net so vry en onoorwinlik soos syne. Die kampkommandant was hieroor so kwaad dat by die man se tong laat uitsny het. Nou was dit doodstil in die kamp, maar tot almal se verwondering was die gevangene die volgende dag weer terug. Op maat van musiek wat net hy kon hoor, het hy begin dans. Een vir een het die gevangenes nader gestaan, hande gevat en op dieselfde ritme begin wieg. Daar was hoop in hulle oë en hul harte was vry. Die wagte was weereens magteloos.

Vir baie van ons maak dit dalk nie sin om te midde van soveel terugslae weer op te staan nie en aan te gaan met ‘n lied in die hart. Miskien is dit omdat ek en jy ook al iets van die seer kant van die lewe ervaar het. Miskien sit jy vanaand by jou huis en weet jy wat dit is om deur die lewe rondgestamp te word, om die een terugslag na die ander te moet hanteer.
Ps73:13-14 (deur Asaf)
Waarlik, tevergeefs het ek my hart rein gehou en my hande in onskuld gewas. Die hele dag tog is ek geslaan, en my tugtiging was daar elke môre.

Ons Vader het wyse om ons te bring waar ons in oënskou moet neem wat ons doel hier is deur alles wat ons beleef. Niks nuut nie maar bedink dit so.
Die vrou van ‘n afgestorwe profeet kom na die profeet Elisa. Sy noem aan hom haar leed dat sedert die afsterwe van haar man het sy in skuld gekom. Die skuldeiser wil haar 2 seuns nou neem om slawe te wees en so die skuld af te betaal.  
Die profeet Elisa vra toe twee vrae duidelik
Wat het jy nodig en wat het jy? Dit is die 2 vrae wat ons hier binne ons ook gevra moet word.
Vader neem ons geloof weg – met die 2 vrae bekyk ons hoe groot ons nood dan werklik is. ons bekyk ook wat is tot ons beskikking binne ons nood. Gewoonlik sien ons dat ons min het teenoor wat ons glo ons het nodig. So, wat ons het skiet te kort aan wat ons nodig het.
Ons grootste poging vandag is om in dit wat ons glo ons het aan te wend om soveel moontlik te kry wat ons nodig het. Ek het gesondheid en ‘n gesonde liggaam en verstand. Ek gebruik dit om my na die beste moontlik ‘n goeie lewe te lei. Maar ons voel steeds dat ons te kort kom.
Hierdeur toon Vader dat ons nie werklik uit ons eie alles kan vermag nie. Dus neem Hy die geloof wat ons in ons self het weg. So lank as wat ons in ons self glo om te kan doen sal vader nooit kan werk in ons lewe nie. Deur al die beproewinge poog Vader dus nie om ons geloof in Hom te verswak nie maar om die geloof in ons self te verswak.
So hoe bekragtig Vader dan ons geloof in Hom? – die oomblik wat Vader ons self geloof wegneem  begin ons geloof in Hom te groei en deur Hom word elke nood in ons lewe vervul.
Die oomblik toe die profeet vra wat het die vrou in haar huis word die besef geskep dat ons werklik reeds alles het wat ons benodig. Vader het reeds vir ons gegee wat ons nodig het om te lewe.  
Die enigste wat die vrou moes doen is om elke kruik wat sy kan kry by vriende en bure bymekaar te maak en te vul met die enigste fles olie wat sy het. Hierdie olie was genesende olie. Sy kon al hierdie flesse volmaak en steeds was die klein fles waarmee sy begin het nie leeg nie.
Ons leer dat Vader se Genade genoeg is vir ons. So min soos ons mag glo moet ons steeds uit ons harte glo dat dit al is wat ons nodig het om ons hele lewe te vul en ons sal vind daar sal altyd nog wees meer dan wat ons nodig het. Sy genade sal soveel wees dat ander dit sal sien in ons.  Ons verklaar Sy genade uit ons eie geloof en dade van geloof.
Maar Ons getuig so gereeld ons liefde vir Vader tot ons met hierdie wêreld om ons bots. Sy genade is groot maar om dit te loop en praat gaan ons nêrens bring nie. Lewe Sy genade in geloof. Ons moet beweeg soos Paulus beleef het toe hy gevra het tot Yahweh – Wie is U.
Ons beweeg oor na Efe 3:20,21
En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk, aan Hom die heerlikheid in die gemeente in Messiah Yahsua deur alle geslagte tot in ewigheid! Amen.

Vader se genade is nie meetbaar deur enige Melkweg of kosmiese grootheid nie. Vader se genade beweeg deur ons en groei. Ons moet ook kruike leegmaak en voor Yahweh almagtig kom. Ons glo te klein so ons het te min kruike om op te neem al die Genade wat Hy vir ons wil gee.  Ons moet ‘n déúr diepte kyk neem op ons self om te kan sien ons is te klein in ons eie geskepte denke en opregte begeerte. Ons wil ons eie begeertes vul maar kan dit net doen tot die mate van ons kennis. Selfs ons kennis van Vader is te klein. In hierdie kleine kennis wil ons bepaal hoeveel kruike ons nodig het.
Vader wil hê dat ons deur die sonde en ons leed ‘n ware beeld moet kry op wie of selfs wat ons is. Deur ons sonde en tekorte sien ons dat in ons self is ons min.
Die Woord noem - My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is. – Hierdie swakheid is nie ons fisiese swakheid nie maar ons geestelike en siele swakheid.  Dit is ons klein gelowigheid wat keer dat ons Sy Genade beleef.
Ons moet kom tot die wete dat daar nie altyd antwoorde is vir al ons vrae nie. Ons moet egter tot die geloof kom dat Sy genade genoeg is.  Hou op om te vra uit wat jy glo JY nodig het. Soms gryp ons na die genade soos die mate wat ons in ons geloof het. Maar ons gryp nie groot genoeg nie en hou nie vas nie. Ons los wanneer ons genoeg beleef.
Hoe swak is ons nou? – Het jy die genade van Vader Yahweh Elohiem al in jou lewe gevind?  Ai, wat ‘n dom vraag is hierdie nie. Ons is die klei wat gevorm word. Die kruik wat in sy hande gebou in in Sy hande omring word.  Kom en neem jou hele kruik, jou hele wese en staan in gebed met volle oorgawe. Laat ons gebed wees - van nou af wil ek net uit U genade leef, sodat ek minder kan word en U meer. Ek kom met groot houers na U, sodat ek u genade in sy volheid kan ervaar en van nou af gaan leef uit U volheid. Ek staan met my gees in bakhande voor U, want ek het in die verlede te min geskep uit U genade.
Gebed in stilte: Gee ‘n minuut of twee dat lidmate in eie gebed in stilte doen.
Vrae vir selfstudie
1.  Wil jy in die teenwoordigheid van jou Skepper wees of moet jy in die teenwoordigheid van jou skepper wees?


2.  Is Yahweh se genade genoeg? Lees Ps 103


3. Tot watter vryheid is die gelowige geroep?


4.  Watter soort olie was in die vrou se fles wat sy by die huis gehad het?


5. Hoeveel flesse kon die vrou vul voor haar eie fles leeg was?


6.  Hoe bekragtig Vader ons geloof?

7.  Watter geloof neem Vader weg van ons?

8. Sal daar altyd antwoorde wees op ons vrae?

9. Wanner begin die werking van genade?

10. Hoeveel kruike het jy al bymekaar gemaak? Indien dit te min is, waar sal jy nog kruike kan kry?

 


Terug Terug na bo