JOIN OUR MAILING LIST


1 Petrus 1:3

"Geseënd is die Elohiem (God) en Vader van onse Meester (Here) Jahshua (Jesus) Messiah (Christus) wat na Sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ‘n lewende hoop deur die opstanding van Jahshua (Jesus) Messiah (Christus) uit die dode..."

---------------------------------------------------------------------

Welkom by ons bediening van 'n Lewende Hoop, die Hoop wat nie beskaam nie (Romeine 5:5) en waarin ons ons moet verbly (Romeine 12:12), die Hoop van heerlikheid (Kolossense 1:27) wat ons Meester (Here) Jahshua (Jesus) Messiah (Christus) is (1 Timótheüs 1:1) en waaraan ons onwankelbaar vas kan hou (Hebreërs 10:23).

---------------------------------------------------------------------

Ons glo dat die Godheid en ons Verlosser verkies dat ons Hom aanspreek op die manier waarop Sy aardse moeder gedoen het volgens die opdrag van die engel aan haar, en daarom gebruik ons verkieslik die Heilige Name soos getranslitereer uit Hebreeus na Afrikaans. In die plek van die vertaalde Name of titels soos God, eerder Elohiem (meervoud), in die plek van HERE is dit JAHWEH, Jesus is Jahshua, en Christus liefs genoem Messiah. 

Ons glo in Elohiem (God) die Vader (Jahweh), die Seun (Jahshua) en die Heilige Gees (Jahruach) as 'n drie-enige God, wat die Almagtige, Alomteenwoordige, Alsiende, Alwyse en Ewige is. Ons glo dat Hy, as Elohiem, ‘n Saamgestelde Eenheid, (“Enige Here” / "ECHAD") (Markus 12:29) die Skepper is van alles en dat alles deur Hom ontstaan het.

Ons glo in Jahshua Messiah as die eniggebore Seun, wat die enigste Verlosser, Redder, Saligmaker en Koning is. Ons glo dat Hy (Jahshua) uit 'n maagd gebore is en die enigste weg na die Vader is. (Johannes 14:6).

Ons glo dat die Heilige Gees (Jahruach) die Trooster is wat deur Jahshua Messiah aan ons gestuur en gegee is om ons ook te lei, te leer, te onderrig, en van sonde en geregtigheid te oortuig. Ons glo dat die werking van al nege (9) gawes van die Gees vandag nog van toepassing is vir elke wedergebore kind van die Almagtige. Ons glo dat die doping met die Heilige Gees steeds ‘n noodsaaklike werklikheid vandag is.

Ons glo aan die onfeilbare Woord van Elohiem en dat die hele Skrif deur Elohiem ingegee en nuttig is "...tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid..." (2 Timótheüs 3:16, 17) om die volk van Elohiem volkome toe te rus.

Ons glo in die sending-opdrag wat Jahshua elkeen van ons gegee het volgens Matthéüs 28:19 om dissipels te maak van al die nasies en om hulle te doop en te leer om alles te onderhou wat Hy ons beveel het. Al dié nasies oor wie Sy Naam uitgeroep is (Handelinge 15:17). Ons glo in een waterdoop (onderdompeling), soos wat Jahshua Homself ook laat doop het (Matthéüs 3:13 - 17). Verder glo ons ook in die doping met die Heilige Gees (Matthéüs 3:11; Markus 1:8).

Ons glo dat ons geveg nie teen vlees en bloed is nie, "...maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug..." (Efésiërs 6:12) en dat ons hulle almal moet weerstaan (Jakobus 4:7; 1 Petrus 5:8, 9).

Ons glo dat Jahshua reeds die volle prys betaal het en dat Hy die oorwinning behaal het. Ons glo dat ons in Sy outoriteit staan en dat ons Elohiem in gees en waarheid moet aanbid (Johannes 4:24) en dat ons tot alles in staat is deur Jahshua Messiah (Filippense 4:13). Ons glo dat Hy gekom het sodat ons ‘n lewe van oorvloed kan hê op elke gebied van die lewe; geestelik, sielkundig en fisies (Johannes 10:10b).

Lewende Hoop is 'n bediening van hoop aan die uitverkore volk van Elohiem wat die geestelike en ander behoeftes van die volk wil help vervul met die hulp van die Heilige Gees.

Lewende Hoop is 'n bediening waarmee die ware volk van Elohiem kan identifiseer en waarin hulle hul geestelike tuiste kan vind. Ons is daarom volksgerig en sien ons opdrag om eerstens ons naastes as Boere-Afrikaner Volk en verwante nasies te bereik met die Ware Evangelie en hulle so te bedien.

Lewende Hoop se visie is om:

  1. Jahshua se salwing uit te dra en te leef (Lukas 4:18)
  2. Jahshua se bediening te herstel (Lukas 4:18-19)
  3. Die Woord van Elohiem lewend te hou en uit te leef (Hebreërs 4:12)
  4. Ware lofprysing en aanbidding te herstel (Psalm 95:6)
  5. Waarhede gemeenskaplik te deel (1 Johannes 1:7)
  6. Die volk van Elohiem te bedien (Romeine 9:4)
  7. Hoop te bring vir die volk van Elohiem (1 Petrus 1:3)
  8. Sendingwerk te doen onder Elohiem se volk (Matthéüs 28:19 & Handelinge 15:16, 17)
  9. Bybelse vindingrykheid en vaardighede oor te dra (2 Timótheüs 3:16, 17)
  10. Die gesinslewe te herstel (Kolossense 3:18 - 21)
  11. Die manne van ons volk in hulle priesteramp te herstel (Hoséa 4:6 & Openbaring 1:6)
  12. Ons volk in heiligmaking te help en voor te berei vir die wederkoms (Hebreërs 12:14 & 1 Thessalonicense 5:23)


Terug Terug na bo